Storms

Daar is soveel dele van my land van herkoms wat ek bitterlik sleg ken en sommige streke, eintlik glad nie. Maar wanneer ‘n mens dwarsbeen oor twee kontinente leef, gaan dit op die ou end oor die mense. Waar jou mense ookal is, dit is daar waar jou reise keer op keer opeindig.

Augustus laas jaar gaan kuier ek vir ‘n goeie vriendin in die Oranje-Vrystaat. Ons is albei Oos-Kapenaars. In die Oos-Kaap is dit nog koud en reënerig, maar ek gooi gou die baadjie af wanneer ek in die Vrystaat arriveer. Bloemfontein se lug is droog; die gerug van ‘n stofstorm lê en wag om elke draai; agter elke bos bewe ‘n lugspieëling in die hitte.

Met die Vrystaat is ek nie te goed bekend nie. Ek was al ‘n paar keer daar, maar dit was vir ‘n vinnige deurry en ‘n vlugtige troue en hierdie keer wag daar ‘n ou bekende. Ons het mekaar lank laas gesien en ons gesels. Onophoudelik, want die stories raak nie op nie. Daar is niks om weg te steek nie en so baie om te vertel en te bespreek. En sommer vinnig voel dinge nie meer so onbekend nie.

In hierdie deel van die land bring temperature groter uiterstes as langs die kus. Vroegoggend al kom lê die begin van ‘n warm, droë dag oor die huise se dakke. Wanneer jy ontbyt eet, kielie die helder hoëvelddag se warm asem al klaar in ‘n mens se neusvleuels. Dit is meer as ‘n voorspelling. Dis ‘n definitiewe belofte. In die Vrystaat draai die weer nie doekies om nie.  Hier slurp die lug die vog uit jou vel. Sonder om onverskoning te vra. Maar terselftertyd kom lê die eerlikheid van die landskap en sy klimaat tussen ons woorde.

Hier, in die hart van die Vrystaat se sentrale plato, is die grasvelde oortrek met ryp in die winter, maar dit is die sukkulente en karooagtige plantegroei wat my heeltyd in die gesig staar. Daaraan is ons albei gewoond. Alhoewel ons driekwart kusmense is (soutwater pols soos bloed deur ons are), is ons ook ten minste ‘n kwart karoo (die helder, oop lyne van die karoo, geaksentueer deur ‘n oneindige blou hemel, loop reg deur ons). Dit is warm in Bloemfontein. Baie warm vir Augustusmaand. En droog. Maar ek is bly, want elke keer as ek in Suid-Afrika aanland smag my liggaam na enige vorm van hitte na soveel jare in Engeland met gereelde sifreën wat vir dae kan aanhou.

Ons lag baie. ‘n Hele halwe jaar se intriges om te deel. Ons praat oor baie dinge wat my nog lank sal bybly. Stof tot nadenke, soos die ou mense altyd gesê het. En praat van stof! Ek sien geen stofstorms terwyl ek daar is nie, maar tussendeur die kuier kan ek hulle voel woel onder my voetsole, hulle kom vat soos ‘n voorgevoel aan die porieë regoor my vel. Hier moet jy die heel dag room smeer.

In die dorre landskap – vol klipriwwe, grasveld en boswêreld – is dit moeilik vir geheime om skuiltes te kry om in weg te kruip. Water verdor vinnig in die warm lug wat soos n tregter die vog opslurp, maar die son brand en die hitte skaaf stories en die landskap tot sonwit geraamtes wat nie sommer sal verdor nie. In die nag gaan my vriendin se sproeiers skelm aan in die tuin vir ‘n paar minute, waterbeperkings ten spyt.

Selfs die duiwe se gekoer klink helderder deur die oggendskemering. Daar is ‘n eerlike opeising wat in die oop lug hang. ‘n Vreesloosheid wat dinge tot op die been oopkloof en die verbleikte beendere van ‘n situasie vinnig blootlê: die basiese feite, die bare bones van ons elke dag se doen en late, so dikwels onbelangrik vir vreemdelinge maar van belang tussen vriende. Want wanneer ‘n mens mekaar ken, verstaan ‘n mens ook beter die landskap van ‘n ander se hart.

Een vroeg-amper-skemer-aand ry ons op met Naval Hill: die enigste wildreservaat in die wêreld wat hom in die middel van ‘n stad bevind. Hier is geen toegangsfooi nodig nie. Enige een is welkom, selfs met ‘n leë beursie. ‘n Agt meter hoë standbeeld van Mandela strek sy arm uit oor die stad wat daar onder in ‘n ligbruin newel lê en wag vir die nag.

‘n Standbeeld van ‘n groot, wit perd herinner aan die Anglo Boere-Oorlog. Maar volgens die Sothos is die standbeeld ‘n historiese afbeelding van Koning Moshoeshoe se beste perd. Blykbaar, so gaan die storie, beweeg die perd een tree vorentoe elke keer as iemand mekaar daar bo op die heuwel soen. Die standbeeld, met ‘n ongebonde panoramiese uitsig oor die stad, is oop vir interpretasie. En moontlikhede.

Wanneer ek die dolerietkoppies aan die buitewyke van Bloemfontein daar doer ver sien kop uitsteek, verbaas ek my weer eens aan die feit dat die naam van die stad verwys na ‘n fontein met blomme. Oorspronklik ‘n waterplek van die Boesmans, eens ‘n natuurlike oase, nou die geregtelike hoofstad van die provinsie.

En ek dink aan my land en sy mense: die ewige toutrek tussen verskillende opinies; vele storielyne; die skaamtelose opeising van ‘n geskiedenis wat nooit vir almal dieselfde sal lyk nie; die determinasie waarmee mense hier in die suidpunt van Afrika voortbeur en aanhou en uithou, taai soos die taaibosse, lawaaierig soos heuningbier of ‘karri’ (waarvandaan die kareeboom sy naam gekry het) maar tog, op die ou end, helend soos die blare van die blinkblaar-wag-‘n-bietjie boom.

Om ‘n plek te leer ken, moet jy sy mense verstaan.

Oppad terug na Engeland in die vliegtuig voel ek vasgevang in die warm, droë lug waarin ‘n mens vir ure dor en verlate en ankerloos rondskommel. Dis ‘n gedwonge, kunsmatige situasie, so sittende en slapende hoog bo die aarde. Hier kan ‘n mens ook nie wegkruipertjie speel nie, maar ‘n mens probeer. Ten alle koste. Dis ‘n ongemaklike situasie. ‘n Teësinnige sit-en-slaap saam met vreemdelinge en die kloustrofobie-ure so saam verwyl.  Elkeen is uiteraard slegs daar om neer te stryk by hul finale destinasie. Die gravitasie waarvan ons mere mortals so afhanklik is, skielik opgehef. Geen versperrings. Jy kan nie jou snork of jou oopmond-slaap wegsteek nie. Hier is almal een in hul reis. Soos in een groot ongemaklike krismisbed word ons meegevoer en uitgedroog en dan uiteindelik uitgespoeg na ons neergestryk het. ‘n Spul bokkoms wat na die landing styf en moerig uit die metaalvoël steier.

Ons sms mekaar wanneer ek aanland: ‘Sien jou in Desember. Vir see en C. Louis Leipoldt se somer en son en saffiere.’

Die sandduine en die branders waai en bruis maar altyd binne-in ‘n mens wie naby die see grootgeword het.

‘n Paar weke later is ek haastig oppad huis toe. Onder my sambreel, terwyl ek saam met die koue en die Engelse reën straataf spoel, kry ek ‘n whatsap: ‘Die stofstorm het ons vandag getref. Rooi soos die oog van Mars. Kan nie wag vir see en saffiere!

Maar ek weet ons sal almal op die ou end oorleef, want sy was nie alleen toe die storm sy finale aftog geblaas het nie en ek, ek was oppad huis toe waar ‘n man met ‘n Britse aksent en ‘n warm hart wag.

Wanneer ‘n mens by jou mense is, kan die storms maar kom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *