Die Pad Huistoe

Deur al die dae en jare wat ek al in die buiteland rondswerf bly Afrikaans maar my kompas en kaart. En wanneer ek so oënskynlik vol selfvertroue, maar in der waarheid somtyds verdwaald, tussen ander lande beweeg buite die grense van tong en taal, keer ek dikwels na binne. Dan blaai ek deur die binneste woordeboek van die taal van my moeder, my eerste taal, en vind ek weer my stem.

Veilig gebêre in die skatkis van my hart, in die grot van my mond wat, soos die liggaam, nie vinnig vergeet nie, skuil my stem en my woorde en my storie. Hierdie taal is ‘n dubbele agent: terwyl ek Engels praat in lande ver van die Suidpunt van Afrika, kruip die subtitels onophoudelik oor die skerm van my hart. Min weet die luisteraar dat daar ‘n spel van oëverblindery aan die gang is. Want in my binnekant weerklink die woorde in Afrikaans. Na binne sing ek eintlik altyd die wysie wat ek ken, die melodie van my hart.

En hierdie taal van my is my ewige metgesel: vir haar hoef ek nie ‘n duur vliegtuigkaartjie te koop nie; Sy het nie ‘n paspoort of ‘n visa nodig nie; alhoewel Sy by tye die raserigste reisgenoot kan wees en dan weer, ander tye, tjoepstil versonke in haar eie gedagtes my sitplek deel. Getrou aan haar ambivalente geaardheid is Sy partykeer die ligste tas wat onsigbaar deur sekuriteit gly, maar Sy kan ook by tye die swaarste tas op die voerband wees: vol geprop met volumes en omnibusse vol herinneringe. Maar haar woorde gee sin aan die nou, die gisters en die môres. Ek sleep haar nie soos ‘n skaduwee agter my aan nie. Glad nie. Sy is eerder ‘n paar vlerke wat my nou en dan ‘n ekstra hupstoot in die regte rigting gee.

En wanneer ek Andre P. Brink oorsee in Engels lees, voel ek soms soos ‘n verraaier, soek my kop en my tong – asof vasgevang in ‘n stille, persoonlike rebellie – sonder ophou na die oorspronklike Afrikaans wat wegkruipertjie speel tussen die lyne. Want Afrikaans is die doepa vir my tong en die pleister vir my hart. Die taal waarin soveel van ons skinder en troos en bid en vloek. Gestroop van politiek en bevooroordelings, is dit eenvoudig die brug na die hart, die pad huistoe.

En so, elke keer wanneer ek aanland in Suid-Afrika, wag ek vir daardie eerste Afrikaanse groet op eie bodem. En wanneer ek dit hoor, maak ek vir ‘n oomblik my oë toe. Om die grond van my moerland onder my voete te voel en daardie geleidelike ontknoping van die tong te ervaar: ‘n onomwonde ontsluiting van my storie, keer-op-keer en altyd in Afrikaans.

One thought on “Die Pad Huistoe”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *